|
Geskryf deur Cornel van der Merwe
|
|
23 January 2009 Waarheid: Ons almal is altyd besig om te wonder oor waarheid en somtyds kan ons vreeslik roem daarop dat ons weet wat is waarheid. Dit lyk egter of waarheid baie fasette het en in Imago leer ons spesifiek om in ons ‘spesiale’ verhoudings die vermoë te ontwikkel om die ander se wêreld te gaan besoek en die sin en waarheid daarvan te gaan ontdek en te valideer. Tog leer ons in ons godsdiens dat daar net een waarheid is en alle oorloë word waarskynlik gevoer omdat albei kante oortuig daarvan is dat hulle die “waarheid” beet het. Ongelooflik ook hoeveel teorieë, wetenskappe en ideoloë ons dan as onderbou en regverdiging hiervoor gebruik! Tog lyk dit asof daar in die wêreld ʼn bewussyn aan die groei is wat net inherent sekere waarhede laat tuimel. Is dit dalk moontlik dat alle banke gebou is op ʼn groot leuen en dat die universele intelligensie net nie langer hierdie leuen kan duld nie en dat dit wat nou oënskynlik na ʼn wêreld ramp lyk tog dalk baie groei in bewussyn en in liefde tot gevolg gaan hê? Wat as geld wat sg. ʼn stukkie goud iewers verteenwoordig nie meer nodig gaan wees nie en elke individu volle verantwoordelikheid vir sy/haar aardse besittingkies, voedsel, klere en blyplek moet neem? Wat as ʼn situasie ontstaan waarin ek niemand meer kan verwyt dat ek nie genoeg het nie, of die ander moet benadeel op watter wyse ook al om iets (materie) in die hande te kry nie? Wat as die ander eerder gesien word as iemand om lief te hê en saam te werk aan ʼn vrugbare lewe in hierdie skepping?
Ek vra maar net?!
Liefde,
Cornel van der Merwe
|