Quantcast
Soek
Tuis Dienste Groepsverband Die siklus van bewustelike ervaring as model vir gesonde funksionering
Die siklus van bewustelike ervaring as model vir gesonde funksionering

Deur bewus te wees van die verskillende stadiums van waarneming en die gepaardgaande onderbreking daarvan asook die oorsprong van die neiging om juis op daardie punt te onderbreek, kan die onderbreking voorkom word.
Die voordeel hiervan is dat volhoubare konsentrasie doelbewus verkry kan word wat groter produktiwiteit meebring.
Daar is voortdurend stimuli wat ons sintuie binnedring. Dit is onmoontlik om aan alle stimuli die volle aandag te gee en daarop te reageer. Om met die lewe te kan aangaan moet daar `n keuse gemaak word oor op watter stimuli daar bewustelik gereageer gaan word. Soms is ons intens bewus dat sekere stimuli dringend aandag vereis en doelbewus word die stimuli gereageer om die behoefte te vervul.

Soms vind daar ʼn onbewuste onderbreking van die siklus plaas wat die natuurlike vloei van die energie om ʼn behoefte te vervul, verydel. Hierdie onderbreking is meestal toe te skryf aan ʼn vroeëre, doelbewuste, kreatiewe aanpassing wat gemaak is om liewer die behoefte prys te gee as om konflik of iets soortgelyks te veroorsaak. Toe was dit funksioneel. Later word dit ʼn gewoonte en vind onbewus plaas en is disfunksioneel en laat ʼn gevoel agter van mislukking of onbekwaamheid wat onbevredigend is. Tekens dat die siklus versteur/verbreek word :

  • Vind dit moeilik om liggaamlike sensasies te identifiseer en te onderskei
  • dit lei tot onsekerheid oor wat eintlik in sekere omstandighede nodig is.
  • kom voor asof onbewus van omgewing ,
  • kronies siek omdat die spanning in die liggaam gesit word,
  • teruggetrokke,
  • wys min emosie
  • het min vriende
  • tree in ekstreme gevalle selfbeserend op.

Oplossing :
  • Raak bewus van bogenoemde patrone
  • Vind die oorsprong daarvan (toe dit ʼn kreatiewe aan passing was)
  • Besluit dat as dit nou disfunksioneel is, die patroon beëindig moet word

Doen die werk : Deur bewus te wees hiervan kan ons die onderbreking voorkom en die behoefte bevredig deur die hele siklus te voltooi.

Stadium 1 : Sensasie

Die stimulus is vanuit die omgewing of van binne die persoon self en het ʼn invloed op die sintuie en word na verwys as die stadium van sensasie.

Voorbeeld : Persone rondom my word bevorder maar ek word nie bevorder nie.

Versteuring in die sensasie stadium van die siklus. Daar is twee prosesse wat die sensasie stadium van die siklus onderbreek.

  • Die een proses is desensitisasie.
    • Hier sluit die persoon sy sensasies so af dat die sensasie stimulus geen reaksie het op die baie interne en  eksterne stimuli van sy wêreld nie. Gee voor alles is reg en onder beheer.
  • Die ander proses is oorsensitisasie.
    • Die persoon is oor sensitief is vir al die stimuli en probleme word ondervind om te bepaal op watter van die baie stimuli op ʼn gegewe oomblik gereageer moet word. Daar is dan verwarring oor die betekenis van al die sensasies en hier moet die bewussynvlak nie verhoog word nie maar eerder gekalmeer word en die reaksie op sensasies bestuur word.

Albei prosesse kan ook doelbewus aangewend word om juis doeltreffend die taak af te handel. Die langafstand atleet ontken bv. pyn of moegheid.

Die verskil tussen 'n gesonde en ongesonde proses is of dit onbewustelik of bewustelik gebeur. Beide oor- en onder-sensitisasie kan veroorsaak word deur die gebruik van substanse soos alkohol, dwelms, kaffeïn, soetigheid ens.

Voorbeeld : Wil by alles betrokke raak wat onder jou aandag kom. Jy beskou alles as belangrik en ag jouself daarvoor verantwoordelik om dit in orde te kry.
Oplossing : Dwing jouself om op een saak wat werklik nou belangrik is, te konsentreer en die ander stimuli "af te koel" tot die saak waarmee jy besig is suksesvol afgehandel is.

 

Stadium 2 Herkenning.

Die aandag van die persoon wat die sensasie beleef, word nou toegespits op die bron van die sensasie om dit te herken en ʼn naam te gee.

Voorbeeld : Kwalifikasie nie voldoende nie. Moet ʼn bykomende kwalifikasie verwerf.

Voel onseker en opgewonde. Dit mag gepaard gaan met ʼn emosie of ander gewaarwording soos `n verkoue of rugpyn ens. By `n volgende persoon vind die herkenning nie so maklik plaas nie en is dit net `n gespanne gevoel.

Versteuring in die herkenningsfase : Dikwels deur die proses van defleksie waar die energie afgewend word van die natuurlike pad na `n alternatiewe weg. Defleksie kan bewustelik ten goede aangewend word. `n Persoon met engte vrees wat 'n breinskandering moet ondergaan, kan die engte vrees vervang met `n voorstelling van `n wye oop weiveld en so die angs voorkom.

Aanwysers van persone wat versteurings in die herkenningsfase ondervind, is:

  • Vind dit moeilik om eie behoeftes te identifiseer
  • Weet iets is verkeerd maar weet nie wat nie.
  • Soms impulsief met hoë energie
  • Tree sonder beplanning op "om die ding net gedoen te kry". Skiet eers en mik dan.

Stadium 3 Beplanningstadium

Mobilisering van energie.

Voorbeeld : Doen navraag oor waar die kwalifikasie verwerf kan word, wat dit sal kos, hoe lank dit sal neem, hoe dit my lewe gaan beïnvloed ens.
Die behoefte word meer bewustelik en die aksie word beplan Verbreking van die ervaring in hierdie stadium vind plaas deur retrofleksie. Dit is die proses waar die energie wat normaalweg na buite aangewend sou word, nou na binne gekeer word : in plaas van iets te sê of te doen, liewer niks te sê of te doen nie.

Daar is twee vorme van retrofleksie.

  • Die eerste is om aan myself te doen wat ek eintlik aan iemand anders wou doen. In plaas van kwaad word en dit wys teenoor iemand anders word ek kwaad vir myself en begin myself kritisseer en blameer. Die retroflektor word dan die aktiveerder en die ontvanger. Die oorsprong lê dan in die onbewuste gedagte dat dit lelik of skadelik is om kwaad te word. In hierdie voorbeeld bly die beplanning dan net beplanning en die tyd om in te skryf is verby. ʼn Verbreking in die beplanning stadium mag lei tot depressie en angstigheid omdat die energie wat gemobiliseer word nie gekanaliseer word in effektiewe aksie nie.
  • Die ander vorm van retrofleksie is dat `n persoon aan homself doen wat hy wou hê die omgewing aan hom moes doen. Die persoon wat graag versorging wou kry maar dit nie kry nie, steek `n sigaret aan. As die ouers van Z nie behoorlike grense gestel het nie, doen sy dit aan haarself deur haarself te kritiseer en te belas met onmoontlike take.
Aanduidings : Besluiteloosheid en bekommernis mag ook aanwesig wees.Gee ʼn onlogiese betekenis aan ʼn situasie of ervaring.

Stadium 4 Aksie.

Verskillende moontlikhede word oorweeg en ʼn keuse word gemaak ten opsigte van die instelling, die studierigting, die vakkeuse ensovoorts.
Verbreking van die stadium word gekenmerk deur prokrastinasie (uitstel) as die verbreking plaasvind in die oorgang van stadium 3 na 4. Wat dikwels die gevolg is van introjeksie. Dit is om `n reël, boodskap of model wat iemand anders gegee het, netso in te neem asof dit jou eie is sonder om die bruikbaarheid daarvan vir die hier en die nou te beoordeel. (word dikwels deur adverteerders aangewend). As die versteuring plaasvind in die oorgang van stadium 4 na 5, word daar baie gekla oor ʼn besige program.

  • Aktiwiteite word herhaal sonder dat daar ʼn gevoel van sukses is.
  • Werkholiste
  • Perfeksioniste
  • Slaag nie daar in om volledig in kontak te kom met die taak of die persoon nie
  • Het baie kennisse maar min vriende
  • Soms die Casanova sindroom: van die een seksuele ervaring na die ander sonder om ware kontak en intimiteit te ervaar

Oplossing:

  • Keer terug na die beplanningstadium.
  • Pas die studie program realisties aan en wees bewus dat hierdie onderbreking nie te wyte is aan eksterne faktore nie maar aan die kreatiewe aanpassing in die kinderjare wat tot ʼn onbewuste gewoonte gelei het.

Stadium 5 Kontak.

Volle betrokkenheid by wat ookal besluit is om die plan tot uitvoer te bring. Alle ander sake verdwyn tydelik in die agtergrond en die een saak kry volle aandag. Begin met studie, gesels met almal daaroor, pas die inhoud toe, doen die werk met ywer met die nalaat van sake wat voorheen as baie belangrik geag is.
Verbreking van die stadium vind onder andere plaas deur die proses van egotisme, waar die persoon sy eie waarnemer word. In stede van werklike kontak te maak stap die persoon terug en neem die kontakmaking waar.

Egotisme neem die vorm aan van trots of bewondering van sigself of van kritisisme en miskenning van sigself. Raak intens bewus van hoe hy vir ander voorkom en stel homself voor watter kritiese gedagtes ander oor hom het. Werklike kontakmaking vind dus nie plaas nie.

Projeksie kan ook hier oorsaak van verbreking van die siklus wees. Projeksie is die proses waar `n aspek van die self ontken word en dit geplaas word in iets buite soos `n ander mens, dier of ding. Die persoon wat projekteer, sien dan die persoon of gebeure nie soos dit werklik is nie maar die gefantaseerde beeld daaroor. Dit kan positief of negatief wees.

Stadium 6 Assimilasie en voltooiing.

Wanneer die behoefte vervul is, kom ʼn gevoel na vore van fisiologiese en psigologiese voltooiing en tevredenheid. Herwaardering mag intree om seker te maak dat die behoefte wel vervul is. Die studie is voltooi en die kwalifikasie is verkry asook die erkenning in die werksituasie en die bedreiging is afgeweer. Die proses is voltooi.

Verbreking : Samevloeiing met die omgewing sodat die bewussyn van individualiteit verlore gaan. Differensiasie en individualisasie gaan verlore. Die persoon is nie instaat om tussen sy eie ervaring en die van ander te onderskei nie. Neem `n houding in van "ag nee wat, dit is sommer niks"

Stadium 7 Onttrekking.

Die aangeleentheid word nou deel van al die ander ervaringe en verloor die toegespitsde aandag. Daar is nou nie meer die druk van die studie nie.

Verbreking van die siklus kan hier ook wees as gevolg van samevloeiing, deurdat die persoon nie instaat is om afskeid te neem van die aksies waarmee hy besig was om die doel te bereik nie. Bang om alleen gelaat te word, kan in die algemeen nie klaar maak met `n aangeleentheid nie.

Stadium 8 Die vrugbare stil tyd.

Voor die siklus weer begin, is daar ʼn tydperk waarin die aandag op niks spesifiek gefokus is nie.

  • Die gedagtes word nie gevul met herrinneringe en planne nie
  • Gewillig om rigtingloos te bly in die hier en die nou en dus gereed is om volledig en dadelik te reageer op nuwe stimuli in en rondom ons.
In hierdie tyd word dikwels die kosbaarste gedagtes gebore wagtend op die volgende stimulus.

Verbreking: Word soms ervaar as ʼn afgehaalde of depressiewe gevoel en die behoefte om die spasie dadelik te vul met nuwe gedagtes en aksies.

Freek van der Merwe


Voeg hierdie bladsy by u gunsteling "Social Bookmarking" webtuiste
Digg! Reddit! Del.icio.us! Mixx! Free and Open Source Software News Google! Live! Facebook! StumbleUpon! TwitThis Joomla Free PHP